Get In Touch !! We Really Care
Thanks for contacting Jakaranda & Louis Botha Children's Homes
Send
Jakaranda 012 800 4700 | Louis Botha 012 3336184 | info@jacarandachildren.co.za

Kinderhuis-kind

met vergunning van ‘n oud Kinderhuis-kind van Durbanville Kinderhuis Besoek gerus FACEBOOK BLOG – ‘n vrou soos ek 

In ‘n bedjie lê ‘n 5 jarige blondekop dogtertjie. Sy luister na die geluide van die nag rondom haar. Sy is bang. Die kombers is halfpad bo-oor haar kop getrek sodat net die klein blou ogies uitsteek. Wat gaan deur ‘n 5jarige se gedagtes? Volgens mý 5 jarige seuntjie…niks. Maar nie vir daai 5 jarige blondekop dogtertjie nie – sy lê en wonder – sy lê en dink…gaan my mamma en pappa my ooit weer kom haal? Jy sien, daai dogtertjie is in die kinderhuis, en daai dogtertjie is ek!

Ek en my sussie is weggevat van ons ouers af – ons was klein – ek vyf en sy ‘n jaar oud. Dis die ouderdom waarop jy nog tussen jou ouers in die bed wil gaan inkruip; wil luister na slaaptyd-stories; op pappa se skoot sit en jou klein armpies om sy nek gooi; mamma se makeup uit die laai gaan grawe om jou gesiggie in te kleur; saam by die “groot” tafel sit terwyl jy eet en lag; en verseker wees van jou mamma en pappa se liefde vir jou. Maar jy wonder wanneer jou mamma en pappa jou by die kinderhuis gaan kom haal. Daar was gesê dis net vir ‘n “klein tydjie” wat ons daar moet kuier. Ek het in matriek daar uitgestap.

Alle kinders is mal oor civvie dae – wanneer jy met gewone klere mag skooltoe gaan en vir ‘n dag “vry” kan wees van uniform dra. Ek het civvie dae verpes! Ek het ook eers daarvan gehou – totdat ons gespot was. “Kyk wat trek die kinderhuis-kinders aan!” of een van die kinders sou met haar splinternuwe uitrusting (wat mamma spesiaal gaan koop het vir civvie dag) op en af voor jou paradeer. ‘n Ander een sou sê “Is daai nie my klere wat jy aanhet nie? My ma het van my ou klere vir die kinderhuis geskenk.” Wysheid het gekom met tyd – ek het civvie dae eerder met my skool uniform gegaan. Daaroor kon hulle nie so groot bespotting maak nie.

Ek onthou die gewag by die telefoon hokkie. My ouers gaan bel – hulle het so gesê. Jy sou eers vol selfvertroue by diè ding gaan staan en wag. Later het die staan verander in ‘n sit posisie. Dan sou jy lê – op jou rug – terwyl jy staar na die lug…in jou binneste lê en bid. Die trrr-trrr het jou skielik laat reggop spring – weer vol hoop – net om uit te vind dis nie vir jou nie. Minute het verander in ure. Tot jou huismoeder jou later kom weghaal het. Jyt altyd hoop gehad.

Dan was daar die gewag by die “groot hek”. Sondae was besoektyd – tussen 3 en 5. Jyt behoorlik die Sondag-middag-slapie om gewens en teen die spoed van weerlig hek toe gehol om te gaan wag. My ouers kom kuier. Met groot opgewondenheid het jy behoorlik gestaan en trippel. Karre het ge-in en ge-uit…maar nie een was iemand vir jou nie. Ek het so ver as wat die oog kan sien na die karre doer onder in die pad gekyk, my ogies op skrefies getrek – gehoop dat tussen almal ek een van hulle sal herken. Vyfuur het gekom en die ander kinders het heel in hul noppies met ‘n sakkie vol sweeties of twee terug na hulle huisies gestap. Glimlagte breed op hulle gesig. Ek het steeds by die hek gestaan – vol hoop, met trane wat teen my wange af rol – hulle het dan belowe!

Ek onthou die kere wat ons by my pa kon gaan kuier – oor ‘n naweek of vakansie tyd. Ons het uitgesien na ‘n plastiek sakkie met gemengde sweeties in. Partykeer was dit net ‘n Chomp chocolate. Dit was meer as genoeg. Ander kere het ons niks gekry nie. My pa het gesê daar was nie geld nie. Hyt wel drank gehad – vir die hele naweek. Ek onthou die leë yskas. ‘n Verlore tamatie, ‘n aartappel of twee wat al verander het in ‘n tipe plant, en wyn – daar was altyd wyn. Soms brannewyn. Ek het soms vir my en my sussie kos gemaak – wanneer my pa nie in staat was nie of by sy vriende gaan kuier het. Ek sou brood in bolletjies rol en dit in die mikrogolf warm maak. En ‘n paar stukkies macaroni in ‘n bakkie gooi met kookwater oor. Dit was soos konings-kos. Die kinderhuis het op ‘n later stadium kospakkies begin saamstuur wanneer ons naweke daar gaan kuier het.

Die lekkerste was wanneer mense ons kom haal het by die kinderhuis om op uitstappies te gaan. Of wanneer hulle vir ons kom braai het. Ook die opwinding van Kersgeskenke. Mense kon ‘n kaartjie van ‘n boom gaan afhaal by ‘n winkelsentrum en dan vir diè spesifieke kind ‘n geskenkie koop. Met skitterende ogies het ons daai een geskenkie oopgemaak – dit was meer as goud werd. Ek onthou die kere wat ons elkeen ‘n skoenboks vol soetgoed gekry het – praat van ‘n sugar rush! 🙂

Ons sou goed ontvang van winkels wat verby die BB-date is, soos yogurt, milkshakes, vrugte of broodjies. Ons kon nie dit met die kinders by die skool deel nie, want hulle eet nie “ou” goed nie. Ons kon nie die “dorps-kinders” so mooi verstaan nie – dis nie oud nie, dis nuut – ons het dit dan net gister gekry. Ons sou deel – hulle nie.

Vandag is ek groot, getroud en gelukkig. As klein dogtertjies het almal gedroom oor wat hulle wil word wanneer hulle groot is, hoe ryk hulle gaan wees, en waar hulle gaan bly. Ek het gedroom oor ‘n heel gesin – om nooit soos my ouers te wees nie, en om alles te wees wat hulle nooit was nie. Baie dae verlang ek terug…ek verlang na my kinderhuis dae. Ja, daar was slegte tye, maar daar was meer goeie tye. Ons was een groot familie. Die kinderhuis het my soveel waardes geleer wat diep in my hart gebêre was oor al die jare. Oor die jare moes ek leer om te vergewe – my ouers was darem nie net sleg nie en ek glo diep in hulle hart was daar wel liefde vir hul meisiekinders.

Snaaks hoe sekere dinge mens net by bly. Soos ek is steeds nie mal daaroor om tè rustig te wees op ‘n Sondag middag nie, want dit laat my terugdink…

Psalm 27:10 Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder Sy sorg neem.

Liefde M

(met vergunning van ‘n oud Kinderhuis-kind van Durbanville Kinderhuis) FACEBOOK BLOG – ‘n vrou soos ek

For more information contact our marketing department:

 

Christo Louw
Jakaranda Children's Home
Tel:
012 - 800 4700
Mobile: 083 5115 238 (08:00 - 17:00)
Email: clouw@jacarandachildren.co.za

 

Ancha Smuts
Louis Botha Children's Home
Tel: 012 - 333 6184
Mobile: 083 230 8366 (08:00 - 17:00)
Email: asmuts@louisbothachildren.co.ca

 

Gary Van Veenhuyzen
Multidisciplinary Development Centre - MDDC
Tel: 012 - 800 4700
Mobile: (not available)
Email: marketing@jacarandachildren.co.za